Ek is op soek na :
 
JUNIOR STADSRAAD

Vyf leerlinge van Brandwag het die skool gedurende die 2009 termyn op die Junior Stadsraad verteenwoordig.

 

Charl Marais en Carike Olivier, albei in graad 11 (2009), het die tweede jaar as raadslede, saam met die matriekleerling, Adél Dorfling, op die raad gedien.  Ruhan Fourie en Danie Strydom het as subkomiteelede opgetree, voordat hulle tydens `n prestige geleentheid as amptelike raadslede ingelyf is.  Die geleentheid het op 19 Augustus 2009 in Muir College se skoolsaal plaasgevind.  Unika Schonken en Luzanne Bester, die nuut verkose lede, sal slegs as waarnemende subkomiteelede dien.

 

Die Junior Stadsraad bestaan uit hoërskoollede van Uitenhage en Despatch, en vergader elke week, gewoonlik by die Junior Burgemeester se skool.

 

Die leerlinge het hoofsaaklik geld ingesamel vir die finansiering van hul aktiwiteite, asook vir welsynsorganisasies, deur projekte soos `n gereelde karwas by Spar en natuurlik die groot geldinsamelingsprojek, die jaarlikse debutantebal.  Elke lid het waardevolle ondervinding in ondernemingsgees en menseverhoudings opgedoen en die Junior Stadsraad het hulle geleentheid gebied om hul leierseienskappe te ontwikkel en uit te dra.  Die Brandwagters het weereens bewys dat daar altyd op hulle staatgemaak kan word en word hartlik bedank vir hulle toegewydheid en volgehoue ywer.

 

`n Groot eer het Brandwag te beurt geval toe Charl Marais verkies is as Junior Onderburgemeester van Uitenhage/Despatch, 2009-2010.  Brandwag is baie trots op hom en glo hy sal waardevolle bydraes tot die raad se werksaamhede kan lewer.