|
Die Anibrandfees hoop om gevestig te word as een van die primêre feeste in die Oos Kaap. Die fees skep geleenthede vir opleiding en bekendstelling van alle vorme van die kunste.
Deur hierdie fees is daar ook baie geleenthede geskep vir die publiek om geld te genereer deur middel van stalletjies by die fees asook deur dienste te lewer soos spyseniering, sekuriteit en skoonmakers. Die skoliere wat betrokke was by die fees het geleer dat goeie organisasie belangrik is om suksesvol te wees. Hulle het ook geleer om kalm te bly onder groot druk, veral as hulle met die publiek werk.
`n Verskeidenheid is aangebied in die verskillende lokale om die Hoërskool Brandwag:
In die NG Kerk Uitenhage-Noord se saal is `n kunsuitstalling/boekefees gehou. Plaaslike kunstenaars se werke is vertoon en te koop aangebied. Die pretloop het Vrydagoggend begin en geëindig by die NG Kerk Uitenhage-Noord. In die Barklystraat Teater is `n baie suksesvolle manne-ontbyt aangebied waar die gaste onthaal is met rugby staaltjies soos vertel deur Hempies du Toit. Daar is ook `n baie suksesvolle koorfees in die skoolsaal aangebied.
Die grootste deel van die fees was op die Hoërskool Brandwag se sportvelde. Die hele terrein is omhein om `n feesterrein te skep met betaalde toegang by slegs twee ingange.
Die vermaaklikheidsprogram van die 2009 fees het bekende kunstenaars ingesluit soos Kurt Darren, Die Broers, Die Campbells, Arno Jordaan, Nadine en country legendes soos Lance James, Barbara Ray, Clive Bruce en Jody Wayne en natuurlik Glaskas en Straatligkinders.
Die skool se Interact groep het `n dagsorgsentrum beman vir kinders 3 tot 6 jaar. Dit was baie suksesvol en sommige kindertjies wou nie huis toe gaan nie, dit was te lekker. Die eerste junior en senior feeskoningin is op 1 Mei gekroon. Daar was 85 eksklusiewe kunsmark-stalletjies en 30 kosstalletjies, beslis genoeg vermaak vir die ± 10 000 besoekers.
Baie ouers het aangedui dat hulle graag betrokke wil raak by die fees. Ons is baie dankbaar daarvoor en gaan beslis in die toekoms daarvan gebruik maak. Aangesien dit die eerste fees was, was dit moeilik om te bepaal waar almal betrokke kan raak. Dit is nou moontlik om meer ouers te betrek om te help met die algemene organisering van die fees.
Die Anibrandfees is `n inisiatief van die Hoërskool Brandwag. As ouers, onderwysers, leerlinge en oudleerlinge van Brandwag saamwerk, kan hierdie een van die mees suksesvolste feeste ooit word.
Die volgende fees word reeds beplan en sal plaasvind op 30 April & 1 Mei 2010.
Besoek die Anibrandfees se webtuiste vir die jongste nuus oor die fees.
|