Ek is op soek na :
 
VCSV 2009

 

 

Ons het hierdie jaar ongekende seën ontvang.  Dit het ons gesien met die baie aansoeke vir volgende jaar se kringleiers.  Waar ons in die verlede omtrent net so 2 of 3 ekstra aansoeke gekry het as wat ons kon aanstel, het ons vanjaar 32 meer gehad wat dit vir ons baie moeilik gemaak het om te kies.  Almal was wonderlike kinders van die Here, maar ongelukkig moes daar `n paar uitval. 

 

Ons het hierdie jaar nie baie besoeke van buite gehad nie, maar Zoë, `n jeuggroep van NG Kerk, het die skool die 3de kwartaal besoek, en ook ons koffiekroeg met `n vertoning aangebied.

 

Ons koffiekroeë is weer hierdie jaar met nooit minder as 200 leerlinge goed bygewoon.  Die terugvoering wat ons van die leerlinge kry, getuig van groot seëninge. 

 

Ons JOT het ook haar voete gevind en gaan dit uitstekend met die kringleiers.  Haar aanslag maak dat elke kringleier in sy/haar vermoëns geglo het.

 

Ons het hierdie jaar vir `n eerste keer weer al die kringleiers aan die begin van die eerste kwartaal na `n gesamentlike kamp te Jeffreysbaai geneem vir opleiding saam met van die ander skole in ons sirkel, soos Nico Malan, Strelitzia, McClaglen en Paul Saur.  Die kringleiers het ander skole se leiers leer ken en wonderlike vriendskapsbande gevorm.  Ons sien uit na volgende jaar se kringleiers kamp.

 

Vir `n proefneming gaan ons hierdie jaar ons takkamp verskuif na Oktober wanneer die meeste sport klaar wedstryde gespeel het, behalwe krieket.  Die belangstelling is op die oomblik baie groot en ons sien uit na `n heerlike kamp wat die 2de naweek in die 4de kwartaal gaan plaasvind by African Imprint, Kirkwood.

 

Ons VCSV-orkes raak net al hoe sterker en die aansoeke was oorweldigend vir volgende jaar.  Mev. Scheepers, ons musiekonderwyseres, het mev. Landman, JOT, gehelp met die kies van lede.

 

Elke Donderdag 2de pouse is daar saam met die VCSV orkes, lekker sing-songs in die saal.  Daar word dan nuwe liedjies sowel as ou liedjies gesing.  Dit word baie goed bygewoon.

 

Elke 2de pouse, word daar in kamer 6 saamgebid onder leiding van mnr. Von Willigh.  Die getalle wissel elke dag, maar dit word goed ondersteun.

 

Skoolverlaterskampe is soos altyd nog steeds `n treffer, ten spyte van die hoë koste daaraan verbonde.  Ons wil langs hierdie weg vir die kerke dankie sê wat van die jongmense gehelp het met finansies.  Ons is ook bevoorreg om een van Jeffreysbaai se leiers, mev. Marais as deel van ons VCSV span te kan hê - sy en haar man is in beheer van die skoolverlaterskamp daar.

 

Hoogtepunte uit 1ste kwartaal:

  1. Kringleierskamp te Jeffreysbaai
  2. Koffiekroeë
  3. Begin van kringe
  4. Streekskampe te Jeffreysbaai en Avontuurkampe te Elandsrivier

 

Hoogtepunte uit 2de kwartaal:

  1. Koffiekroeë
  2. Hemelvaartdiens
  3. Skoolverlaterskampe te Zuurberg en Jeffreysbaai

 

Hoogtepunte uit 3de kwartaal:

  1. Verkiesing van nuwe kringleiers
  2. Kofiekroeg aangebied deur Zoë NG Kerk Jeuggroep
  3. Streekkampe:  Jeffreysbaai (leierskamp slegs Gr. 10 en 11) en Avontuurkampe te Elandsrivier
  4. Afsluiting van kringe in kringverband

 

Die verkiesing van kringleiers word weer d.m.v. onderhoude gedoen en ons vertrou dat die Here die regte persone sal aanwys.  Ons het 39 leiers gekies en nie weer 36 soos in die verlede nie.

 

Hoogtepunte uit 4de kwartaal

  1. Koffiekroeg – Matrieks word gegroet
  2. Kringleiers spanbou aangebied deur ds. Danie Nel van NG Oos-gemeente

 

Alle eer aan God vir Sy genade en guns vir ons as VCSV van Brandwag.  Ons beleef Sy seën elke dag.  Ons hart gaan ook uit aan almal wat gedurende die jaar geliefdes aan die dood afgestaan het.  Ons as VCSV tree elke dag vir julle in deur gebed.

 

E. PRETORIUS