Ek is op soek na :
 
ATLETIEK

 

 

 

Verslag 2009:

 

 

Die jare het ons al geleer dat atletiek en die beoefening daarvan geweldige selfdissipline verg, meer so as vir spansporte, maar ons getroue atlete sorg jaar na jaar vir ongelooflike prestasies.  `n Mens kan byna nie dink dat rekords jaar na jaar verbeter word nie, maar dit gebeur!  Dit moet mos die gevolg wees van `n groep toegewyde atlete en afrigters.  2009 is weereens geen uitsondering nie en het as volg verloop:

 

In September 2008 het ons seuns aan die jaarlikse Hirsch Shield-kompetisie delgeneem en ons naam hoog gehou.  In Oktober 2008 neem ons oudergewoonte weer deel aan die jaarlikse Top 10-kompetisie te Cradock en presteer puik.

 

Tydens die jaarlikse Brandwag Interlaerkompetisie spat daar weer 7 rekords en 128 atlete word na die byeenkoms gekies om vir Brandwag aan die jaarlikse Distriksbyeenkoms, vanjaar by Brandwag aangebied, deel te neem.  Ons atlete het puik presteer tydens die distriksbyeenkoms en altesaam 53 1ste plekke, 41 2de en 24 3de plekke behaal.  Ons atlete het ook 5 nuwe rekords opgestel.

 

Altesaam 73 atlete word vir die Uitenhage-Despatch distrikspan gekies om aan die ou OP Hoërskolekampioenskappe, deesdae die Nelson Mandela kampioenskappe vir hoërskole, by NMMU deel te neem. 

 

27 atlete word gekies om die Nelson Mandela Metropoolspan by die Oos-Kaapkampioenskappe in Oos-Londen te verteenwoordig.  Hier vaar ons atlete puik en 5 van ons leerlinge word gekies om die Oos-Kaap in kompeterende items tydens die SA Hoërskolekampioenskappe te gaan verteenwoordig.  Baie geluk aan die trots van ons atletiekspan van 2009:  Kara Willemse, Corlia Rens, Ischke Senekal, Anja Jonker en Mari Anker – puik atlete wat hulself uitmuntend van hul taak tydens SA’s gekwyt het.  `n Baie spesiale woordjie van geluk aan almal wat deurgedring tot die finaal van hul items (dit plaas hul onder die bestes in die land) en skitterend, Kara Wilemse, wat `n absoluut puik silwer medalje tydens die SA’s in die gewigstoot vir dogters o/15 behaal het – ons is baie trots op jou en jou spanmaats!

 

Die Brandwag-atlete hervat vanjaar hul tradisionele deelname aan die Jim Fouché uitnodigingsbyeenkoms in Bloemfontein gedurende Oktober en ons sien uit na nog puik uitslae.

 

Gun my `n hartlike dank aan ons skoolhoof, mnr. Wilhelm Meyer, die adjunkhoof en hoof van sport, mnr. Hennie von Willigh, vir hul voortdurende lojaliteit en ondersteuning tot groot voordeel van al ons atlete.  Ook `n groot dankie aan al ons afrigters vir onbaatsugtige diens aan die skool en atlete, by name meje. Magdel Loock (spiesgooi) en Rochelle van der Merwe (verspring en driesprong), mnre. André van der Merwe (diskus), Dewald van der Westhuizen (gewigstoot), Joe Cloete (middel- en langafstande en hindernisse), Chris Hurter (hoogspring), Jannie Erasmus (naellope) en Tiaan Viljoen (hekkies).

 

Laastens, en weereens nie die minste nie, dankie aan ons Hemelse Vader vir Sy wonderlike seën wat hy onverdiend op ons skool uitgestort het – vir nog `n jaar!

 

Dié een wat dankbaar is vir die kleine, sal altyd vind dat hy genoeg het.

                                                                                                Anoniem

 

J. ERASMUS