|
J.O.T. (JESUS OUR TEACHER)
Dit is `n voorreg om deel van God se uitmuntende plan vir Brandwag te kan wees. Ek is opgewonde oor die geestelike groei wat ervaar word in die JOT-klasse en ek streef daarna dat elke leerling in `n persoonlike verhouding met Jesus Christus kan staan.
Dit is nie altyd so maklik nie, maar solank die saad van die Woord van God gesaai word, sal daar altyd `n oes wees. Luk. 15 vertel die gelykenis van die verlore skaap. Jesus sê:
Sê nou een van julle het 100 skape en een van hulle raak weg. Wat doen hy dan? Hy laat die nege en negentig in die veld staan en gaan agter die een aan wat weg is totdat hy hom kry.
Elke persoon is baie belangrik vir die Here en ons wil elkeen toerus met God se Woord en beloftes.
As ons terugkyk was dit `n mooi jaar en was die Here werksaam in Brandwag. Die werk van die Here staan nooit stil nie. Ons dien `n groot God wat altyd deel van ons lewens wil wees.
Die Here dra ons ook deur moeilike en hartseer tye en dit is nooit nodig om angstig rond te kyk nie, want God is ons reddende regterhand wat ons nooit sal begewe en nooit sal verlaat nie.
Ons missie vir 2010 word suiwer saamgevat in I Tess. 5:14
- Wys die leeglêers onder julle tereg.
- Praat die kleinmoediges moed in.
- Help die swakkes.
- Wees met almal geduldig.
- Sorg dat niemand kwaad met kwaad vergeld nie.
- Wees altyd bly.
- Bid gedurig.
- Wees in alle omstandighede dankbaar want dit is wat God in Christus Jesus van julle verwag.
- Moenie die Heilige Gees teenstaan nie.
- Mag God, wat vrede gee, julle volkome aan Hom toegewyd maak en julle geheel en al na gees, siel en liggaam so bewaar dat julle onberispelik sal wees wanneer ons Here Jesus Christus weer kom.
R. LANDMAN
|