|
Verslag 2009
Daar is twee opmerkings hier ter sprake: “If it’s not FUN, don’t do it” en “As iets nie moeite is nie, is dit nie die moeite werd nie.” Op die oog af weerspreek die twee mekaar, maar albei is van toepassing in die Brandwag-atlete se belewenis van landloop. Die langasems oefen vier maal per week en neem omtrent elke naweek aan wedlope deel. Dis groot sweet maar hulle geniet mekaar en die hardloop nog steeds na al die jare. Dit was weereens `n baie suksesvolle jaar vir landloop en ons is baie dankbaar teenoor die Here.
Daar is gemiddeld so 15 atlete wat gereeld hardloop. Elke tweede Dinsdag hardloop almal in die Uitenhage-Despatch distrik by die Strelitzia-dam oor afstande wat wissel van 4 tot 8 km teen mekaar. Hier staan ons kinders uit. Juwayne Fletcher en Wenzel Kemp is in die Top 6 groep van die o/19 afdeling (8 km), onder sterk kompetisie. Stefan Dorfling en Melodeus Smith vaar konstant goed in die o/17 (6 km) wedlope. Donald Nel kry die trofee vir Top o/14 hierdie jaar. Ons gaan nog baie van hom hoor.
Tineke Rademeyer is weereens die nommer een o/16 dogtersatleet in die distrik en Carmen Gerber en Natasha Fox onderskeidelik 2 de en 3 de. Die o/16’s neem ook dan die o/16-span wisseltrofee. Marisa Lottering kry die trofee vir die o/17 groep. Die o/14 dogters woel en Cedlyn Christoffel, Wadia Janse van Vuuren en Carla Fourie wen dan ook die o/14-spantrofee.
Met hierdie vertonings plaaslik, was dit dan ook nie verbasend dat 6 van hulle die uiteindelike Nelson Mandela Metropool (OP) span by die St. Alban’s kampioenskappe haal nie. Ons kan regtig sê dat die atlete lanklaas so goed voorberei was as hierdie jaar vir die Oos-Kaap kampioenskappe in Queenstown en hulle het puik presteer.
Met sulke harde oefeninge wat elke middag voorlê, is gedurige motivering nodig, en wat beter as `n toer na KZN gedurende die Julie-vakansie. Sterfte in die familie van die afrigter het die toer effens verkort en beplande wedlope kon nie gehardloop word nie. Dit was egter `n fees. Die toerprogram het ons geneem na hoog in die Drakensberge duskant Rhodes en die Tiffindell ski-oord na Durban met al sy doenighede en daarna `n draai by Mbotyi langs die Wildekus. Daar is natuurlik steeds baie gehardloop, want dit is wat ons doen – teen berge uit en langs sandstrande af.
Behalwe die vele padwedlope oor 5 – 10 km, waar Brandwagters al `n bekende gesig in die Nelson Mandela Metropool is, het die landlopers die geleentheid gekry om by die Anibrandfees `n 5 km pretdraf te reël wat ons glo `n instelling gaan word.. Dus, `n besige jaar, wat al met die middelafstande in Januarie by die interlaer begin het en nou die 4 de kwartaal voortgaan – `n atletiektoer na Bloemfontein. Daarom, as dit nie lekker was nie, sou hulle dit nie kon volhou nie.
H.J. CLOETE
|