|
Verslag 2009
Op netbalgebied het Brandwag besonder goed gevaar. Ons het vanjaar 14 netbalspanne gehad. Dit bly `n probleem om vir al die spanne wedstryde te reël aangesien alle skole nie soveel spanne het nie en/of nie bereid is om teen ons sterker spanne te speel nie. Ten spyte hiervan het ons moeite gedoen om wedstryde te reël en ons het reeds begin om vir aanstaande jaar meer wedstryde vir al die spanne te reël.
Brandwag het die afgelope seisoen meer as 80% van hulle wedstryde gewen. Baie van die spanne was ook onoorwonne. Ons spog ook met 10 provinsiale spelers.
`n Aantal spelers het ook die vlak 1 skeidsregterseksamen afgelê en sommige het reeds as skeidsregters gegradeer. Zene Jonker spog met die prestasie dat sy een van die jongste spelers is wat `n OP-skeidsregtersgradering ontvang het.
Die o/14A en o/14B-netbalspanne was `n besondere groep spelers. Hulle het uiters goeie gees getoon en dit was baie lekker om te sien hoe elkeen ontwikkel en verbeter, op en van die netbalbaan.
Die o/14 B-span het `n fantastiese seisoen beleef en het onoorwonne geëindig!
Die o/14A-span het net so `n fantastiese seisoen beleef en ten spyte van `n paar taai kragmetings slegs hul laaste wedstryd verloor.
Wat opvallend van beide spanne was, is die besondere talent van die spelers, asook die feit dat hulle tot aan die einde van wedstryde hul beste gedoen het. Die groep spelers het groot verwagtinge geskep en sal Brandwag in die toekoms sekerlik nie teleurstel nie.
Alhoewel etlike spelers na die tweede OP-proewe deurgedring het, is slegs Monique Williams in die OP o/14- netbalspan opgeneem. Brandwag is baie trots op haar.
Ten spyte van min wedstryde het die o/14C en o/14D- netbalspanne getrou hul oefeninge bygewoon. Almal het `n bereidwilligheid getoon om in nuwe posisies te leer speel en hul beste te gee onder moeilike omstandighede.
Die o/16A en o/16B-spanne het `n uitsonderlike goeie netbaljaar gehad. Die spelers is `n besonderse groep dogters wat met groot entoesiasme en `n positiewe gesindheid die seisoen begin en baie hard gewerk het. Hulle het met `n afrigtingskliniek te Sun City begin waar spelers baie geleer het. Die span het die o/16 NMMU-toernooi en ook die Framesby o/16-toernooi gewen. Die spanne het toe net van krag tot krag gegaan. Die A-span was onoorwonne en die B-span het net 1 wedstryd verloor en dit teen `n A-span van Bonnievale. Wedstryde wat gespeel is, was ligawedstryde binne die OP-streek en ook teen skole van die Suid- en Wes-Kaap soos Hoërskool Punt, Riversdale en Bonnievale. Dankie vir elke speler se mooi en positiewe gesindheid.
Vier spelers uit hierdie groep naamlik Lezanne Meyer, Zene Jonker, Kelly van Rooyen en Cara Willemse is in OP-spanne opgeneem wat aan die SA-kampioenskappe deelgeneem het. Ons koester groot verwagtinge van ons o/16-spelers!
Die o/16C1 en o/16C2-spanne vaar ook baie goed. Die o/16 C1-span speel 8 wedstryde waarvan hulle 7 wen. Die o/16 C2-span speel 5 wedstryde en wen 4 hiervan.
Die o/16D en o/16E-spanne is deur `n oudskolier en OP-speler, Dachelle Barlow, afgerig. Baie dankie ook aan haar vir haar opoffering en wyse waarop sy die span afgerig het. Aangesien min skole `n D- en E-span het, moes ons soms meer as een keer teen dieselfde skool speel, maar op hierdie wyse kon die twee spanne duidelik hulle vordering waarneem.
Die o/19C en o/19D-spanne beskik oor baie talent! Hul oefeninge en wedstryde is met ywer en entoesiasme aangepak.
Beide hierdie spanne het onoorwonne uit die stryd getree. So het ses matrieks hulle netbal op skoolvlak op `n hoogtepunt afgesluit! Baie dankie vir `n positiewe jaar vol hope pret.
Die afrigting van die o/19A en o/19B-netbalspanne was geen maklike taak nie. Die kombinasie van `n nuwe afrigter en 16 spelers wat nog nooit in spanverband saamgespeel het nie, het daartoe gelei dat afrigter en spelers mekaar vinnig moes vind, hul gemeenskaplike doel bepaal en aan die werk spring.
Die o/19A-seisoen het afgeskop met die Despatch-sportfees waar die span 5 uit 6 wedstryde gewen het. Gedurende die April-vakansie het die span `n geslaagde NMMU-netbalkliniek bygewoon en na afloop van die kliniek die NMMU-toernooi gewen.
Aan die einde van die seisoen kan ons met trots sê dat ons in ons doel geslaag het. Die eerste netbalspan het `n totaal van 28 wedstryde gespeel en 23 hiervan gewen. Hierdie span se sportmangees en deursettingsvermoë het deurgaans baie toeskouers verstom.
Vyf van hierdie spelers haal OP-spanne wat aan die SA-kampioenskappe deelneem. Hulle is Emmelise van Eyk, Karmen Hanekom, Anja Jonker, Monique Toois en Rochelle Barlow. Baie geluk, ons is trots op julle.
`n Eerste netbalspan is egter net so sterk as wat die tweede span hom toelaat om te wees. Sonder `n 2de span kan `n 1ste span nie funksioneer nie. Alhoewel die 2de span slegs 8 wedstryde gespeel en 5 hiervan gewen het, was hul aandeel veel groter. Elke tweedespanspeler het vanjaar die geleentheid gekry om een of meer eerstespanwedstryde te speel. Dankie aan elkeen wat haar kant gebring het toe dit nodig was. Ons groet `n hele aantal matrieks wat `n groot leemte gaan laat, voorspoed vir die toekoms. Baie dankie aan Emmelise van Eyk wat as kaptein van die eerste span die leiding van die groep geneem het. Haar voorbeeld as speler en leier is prysenswaardig.
Ons is baie bevoorreg om nou wedstryde in die aand onder spreiligte te kan speel. Ons beplan om volgende jaar `n hele aantal aandwedstryde te speel en selfs `n aandtoernooi aan te bied.
Hiervoor wil ons mnr. Meyer, mnr. Von Willigh en die beheerliggaam bedank. Dankie ook vir die ondersteuning gedurende die seisoen. Dankie ook aan mnr. Swanepoel wat altyd toesien dat die bane gereed is vir wedstryde.
Ons opregte dank aan al ons borge wat dit vir ons spelers moontlik gemaak het om geleenthede te benut waar kostes verbonde was.
Al die netbalprestasies is egter nie moontlik sonder afrigters wat meer as hul kant bring nie. Baie dankie vir al die ekstra ure wat die afrigters opoffer om daartoe by te dra dat Brandwag een van die top netbalskole kan wees. `n Spesiale woord van dank aan die netbalorganiseerder, mev. Duvenhage, vir al die harde werk agter die skerms om Brandwag-netbal vlot te laat verloop. Baie dankie ook aan me. Loock wat ons met die fiksheidsevaluering en oefenprogramme van die spelers behulpsaam was.
Ons grootste dank aan die Hemelse Vader wat aan ons die wonderlike netbaltalent gegee het en al ons spanne gedurende die seisoen gedra het.
Ons sien uit na `n wonderlike 2010-netbalseisoen!
K. SCHONKEN
|