Ek is op soek na :
 
TENNIS 2009

 

Brandwag-tennis is kerngesond en 2009 was `n kookwaterjaar vir die Brandwag-tennisspelers. Ons spanne was soos oudergewoonte uiters geslaagd en het weereens bewys dat ons `n krag is om mee rekening te hou.

 

Die jaar het oudergewoonte afgeskop met `n spanbou-sessie waar lede van die verskeie spanne sosiaal teen mekaar speel en nuwe spelers `n kans gegun word om hul merk te maak. In vroeg Maart het die jaar se liga-wedstryde in aanvang geneem en ons het drie seuns- en drie dogterspanne in die 1ste, 2de en 3de skoleligas ingeskryf. Hierdie liga-wedstryde strek oor die 1ste , 2de en 4de kwartale. Ons spanne het besonder goed gevaar soos blyk uit die volgende wedstrydstatistieke:

 

Dogters: 1ste Span – Wen al nege hul wedstryde.
2de Span – Wen ses van hul nege wedstryde.
3de Span – Wen al ses hul wedstryde.

                                          

                                   

Die 1ste en 3de spanne het dan ook onderskeidelik hul ligas vir die jaar gewen!

 

Seuns:  1ste Span – Wen vier van hul nege wedstryde.
2de Span – Wen ses van hul agt wedstryde.
3de Span – Wen drie van hul vyf wedstryde.

                                              

 

Twee van ons spelers het `n  besondere eer te beurt geval, Regardt van der Merwe is vir die OP o/19 span gekies en Leandri Wolmarans is in die OP o/18 span opgeneem. Leandri het ook uitstekend gevaar as deel van die OP-span en het 2 van haar 3 wedstryde teen `n Grens-span gewen.

 

Die 3de kwartaal se hoogtepunt is definitief die Interskole kragmeting teen Hoërskool Framesby. Brandwag het die afgelope 2 jaar se kompetisies oorheers en dié jaar was geen uitsondering nie. Slegs ons 1ste spanne het in die dubbelspel deelgeneem en Framesby is behoorlik van die baan gevee met  Brandwag wat al hul wedstryde met 8/4, 8/3, 8/1 en 8/4 wen.

 

Gedurende die 4de kwartaal vind die Brandwag-kampioenskappe plaas waartydens spelers uitspeel vir hul posisies op die ranglys. Liga-wedstryde teen plaaslike skole asook sosiale wedstryde teen die Addo Tennisklub vind in Oktober plaas.

 

Ons neem ook met groot hartseer afskeid van al ons matriekspelers. Die volgende spelers het Brandwag se 1ste en 2de spanne met lof oor die afgelope 5 jaar gedien :  Hanré Enslin (dogters 1ste span), Regardt vd Merwe, Philip Skein, Tiaan Kleinhans (seuns 1ste span), Wilhelm du Toit, Ewald Els, Ray van den Berg en Mario Ferreira (seuns 2de span). Brandwag bedank hulle vir hul harde werk en toewyding oor die afgelope jare. Brandwag Tennis gaan jul voorwaar mis!

 

`n Spesiale woord van dank gaan aan mevv. M. Hattingh, E. Kleinhans en E. Pretorius vir hul hulp met toesig by wedstryde en die vervoer van spelers.

 

 M. MEYER