Ek is op soek na :
 

DE WET WEN GOUD IN GIMNASTIEK

 

DE_WET_BESTER   

De Wet Bester het `n goue medalje in die tuimel-afdeling gewen by die Oos-Kaapse Gimnastiekkampioenskap. Hy het ook `n silwer medalje verower in dubbel mini-trampolien. De Wet, wat in die afdelings vir seuns 13-14 jaar deelneem, is ook opgeneem in die Oos-Kaapse span wat van 27 September tot 2 Oktober aan die SA Spele vir gimnastiek gaan deelneem. De Wet is 'n lid van die Crusaders Gimnastiekklub.

THEO VERTEENWOORDIG DIE OOS-KAAP IN WISKUNDE-OLIMPIADE

2010-08-30_THEO_SCHERMAN

Theo Scherman, 'n gr. 11 Wiskunde-uitblinker, is gekies vir die Oos-Kaapse span om aan `n interprovinsiale Wiskunde-Olimpiade deel te neem. Die Olimpiade vind plaas op Saterdag 11 September en duur 3 ure. Theo is een van twee gr. 11's wat Addisionele Wiskunde neem. Dis `n gevorderde vorm van Wiskunde wat leerders in hul eie tyd deur middel van afstandsonderrig onderneem.  Theo is ook een van 4 Brandwagters wat deelgeneem het aan die tweede rondte van die AMESA/NMMU Wiskundekompetisie. Hy en Danie Strydom het albei aan die senior afdeling deelgeneem en Uys Conradie en Ronnie Strydom aan die junior afdeling. 

MATRIEK-EKSAMEN GAAN VOORT

 

eksamen_pic2_website

Brandwag se matrieks begin Maandag 30 Augustus met hulle September-eksamen. Die skool het interne vraestelle gereed vir ingeval enige probleme met departementele vraestelle opduik en die eksamen gaan normaal voort volgens die groen rooster wat matrieks reeds ontvang het. Dié rooster is ook op hierdie webblad onder Akademie beskikbaar.  Let asseblief daarop dat slegs Brandwag-vakke op webblad-weergawe van die rooster aangedui word en dat die nuwe rooster eksamensessies op Saterdae insluit. Kliek hier vir die rooster.

   

2011 HOOFLEIERS AANGEWYS

 

DSC_0275

Brandwag se hoofleiers vir 2011 is Karin Knoetze en Daniël Strydom. Die onderhoofleiers is Elizca Engels en Juan Higgs. Die nuwe hoofleiers en die 2011 Raad van Leerders is tydens `n tradisionele saalbyeekoms ingehuldig. Die name van die raadslede word vooraf by die skool tydens vierkantopening aangekondig, maar almal moet tot die inhuldiging wag om te hoor wie die nuwe hoofleiers is.  Manje Barnard is primaria van die Eike en Ingrid Erasmus is primaria van Jakaranda. Nicky Nell is as primarius van die seunskoshuis, Hanekam, aangewys. Links is Karin Knoetze wat as hoofmeisie aangewys is.

 

FRANK WEN GOUD IN VLINDERSLAG

 

Frank_Greeff_goud_website

Frank Greeff, Brandwag se swemtrots, het onlangs `n goue medalje vir 200m vlinderslag by die SA Ope kortbadkampioenskap losgeswem. Frank het by dié kampioenskap in vyf van die sewe items waarin hy deelgeneem het, die finaal (top agt) gehaal. Hy eindig 1ste in 200m vlinderslag, 5de in 500m vlinderslag, 6de in 200m vryslag en 8ste in 100m wisselslag. Alhoewel Frank die 4de beste tyd vir die 200m wisselslag behaal het, moes hy hom aan die finaal onttrek omdat die item net voor die 200m vlinderslag geswem is. In die proses het hy dus `n goeie kans verbeur om nog `n medalje te wen. Sy tye in die 100m en 200m vlinderslag is beide nuwe OP-rekords in kortbadswem.

 

Brandwag.co.za
Welkom by Brandwag

 

Die Hoërskool Brandwag is 'n Afrikaans-medium skool geleë in Uitenhage.  Brandwag is in die eerste plek 'n akademiese instelling, soos wat uitstekende matriekuitslae jaar na jaar bevestig. Die skool bied leerders 'n besondere wye vakkeuse. Toegewyde onderrigpersoneel help leerders om na die beste van hul vermoë te presteer in 'n omgewing waar akademie voorkeur geniet.

 

Brandwag bied ook op sport- en kultuurgebied allerlei geleenthede aan leerders. 'n Groot aantal aktiwiteite gee leerders verskeie opsies vir deelname, prestasie en pret. Jaarliks lewer Brandwagters uitstekende prestasies op sport- en kultuurgebied, waarvoor Brandwag wyd en syd bekend is. Prestasie is egter nie die enigste maatstaf van sukses vir die skool se buitemuurs nie. Wat leerders in lewenservaring en vreugde in kultuur en sport beleef, is iets wat elke deelnemer na die grootmenswêreld saam neem. 

 

Daar is min plekke waar so baie op een slag gebeur soos by Brandwag. Onderwysers wat van elders by Brandwag aansluit, staan dikwels verstom oor die pas waarteen verkeie projekte gelyktydig plaasvind. Harde werk is die kern van die skool se sukses op soveel gebiede. Leerders leer by Brandwag wat dit beteken om besig en betrokke te wees. By Brandwag is daar nooit 'n vervelige oomblik nie.

 

Verskeie tradisies leef al oor dekades in die skool voort. Oudleerders sal onder meer interlaeroptogte, koshuisbyname, saalbyeenkomste, big brags en die oorneem van die stoep nog erken soos wat dit huidiglik gedoen word. Die oorlewing van verskeie tradisies het 'n groot aandeel in die gees wat in die skool heers. Dit alles dra by tot 'n onvergeetlike hoërskoolervaring in Brandwag.