Brandwag se klas van 2020 het hulle voorgangers oortref met 188 A-vakgemiddeldes (teenoor 2019 se 135) en 78% van die 2020-matrieks het toelating tot graadstudie verwerf (teenoor 69,5% in 2019).
Die slaagsyfer is 97,4%. Brandwag se toppresteerder, Demi Jonck, het ses A’s en ’n gemiddeld van 90,1% behaal. In die tweede plek is Chrisné Swanepoel met 7 A’s en ’n gemiddeld van 89,1%. Charné Allers beklee die derde plek met 7 A’s en 85,7%. Ook Suné Serfontein in die vierde plek het 7 A’s behaal en haar gemiddeld is 84,7%. Verder het Louise Beukes (vyf A’s en 83,1%), Ria Williams (vier A’s en 81,6%), Kelly-Lee Claassen (drie A’s en 80,9%) en Eaden Tait (drie A’s en 80,4%) almal A-gemiddeldes behaal. Anja de Beer en Ané Heunis tel ook onder die toppresteerders met vier A’s elk.
Brandwag se 2020-matrieks het 17 A-simbole vir Afrikaans en 15 vir Engels ingesamel.