Brandwag was net té vinnig en té flink vir die Liceo Rugby Club van Mandoza, Argentinië, wat op Uitenhage besoek afgelê het.
Brandwag se eerste span het die kragmeting 24-17 gewen nadat hulle rustyd 19-12 voor was.
Die Argentynse voorspelers het besonder goed in die skrums en rolmaalbewegings gevaar, maar kon nie al die gate toestop teen Brandwag se blitsige aanvalle nie. Die besoekers se sterk pak kon ook nie altyd eerste by die afbreekpunte kom nie.
Brandwag se entoesiastiese verdediging het die Liceo spelers se, soms indrukwekkende, agterlynbewegings telkens gefnuik. Onder dié druk het die besoekers foute begaan en balbesit afgestaan.
Chadd Adams het vir Brandwag ’n puik vertoning as skrumskakel gelewer. In die eerste helfte het die Argentyne die fout begaan om Brandwag se heelagter, Octavian Muller, onder die hoë bal te probeer toets. Dít was ’n groot fout, aangesien Muller telkens die Argentynse verdediging oopgekloof het.
In die tweede helfte het die Argentyne meer balbesit gehad, maar die tuisspan se aggressiewe verdediging het die besoekers se ritme té veel versteur om te kon inhaal.
Die oorwinning was reeds Brandwag se derde agtereenvolgende een van die seisoen, nadat die span Port Rex 47-0 by die Grenssportfees geklop het en Solomon Mahlangu 72-3 tuis geklop het.