Baie skoolseuns kan net droom van ’n vyftigtal in krieket; Richard Kunneke in gr.8 het dit reggekry om reeds in sy eerste twee wedstryde op hoërskool vyftigtalle aan te teken. Die o.14A’s se eerste kragmeting was teen Daniel Pienaar en Richard het ’n onoorwonne 53 lopies aangeteken om sy span se oorwinning te help verseker. In sy tweede wedstryd het Richard 65 nie uit nie in Brandwag se oorwinning oor Nico Malan aangeteken. Intussen is hy ook gekies vir die o.15 OP-tennisspan, ’n prestasie wat hy jaarliks herhaal al vandat hy o.10 was. Op die rugbyveld draf Richard as losskakel uit vir die o.14A-span. In sy eerste twee wedstryde teen Solomon Mahlangu en Queens College het hy ’n totaal van 38 punte opgestapel – twee drieë en 14 verdoelskoppe. Richard was verlede jaar hoofseun en dux-leerder van Laerskool Sonop en het in sy eerste kwartaal op hoërskool homself reeds stewig op die akademie top 10 gevestig met ’n gemiddeld van 89%. Onder sy klasmaats is hy veral bekend vir sy goeie algemene kennis.