TENNIS

  

Verslag 2010

 

Die jaar het reeds vroeg afgeskop en die eerste ligawedstryde het reeds op 28 Januarie aanvang geneem weens die Sokker Wêreldbeker wat `n effek op ons aantal wedstryde sou hê.

Ons het drie seuns- en drie meisiespanne in die eerste, tweede en derde skoleligas ingeskryf. Hierdie ligawedstryde strek oor die eerste, tweede en vierde kwartale. Ons 12 seuns en 16 meisies het besonder goed gevaar soos blyk uit die volgende wedstrydstatistieke:

 

 

Meisies Eerste span wen ses van hul agt wedstryde
Tweede span wen ses van hul nege wedstryde
Derde span wen vier van hul ses wedstryde
Die eerste meisiespan het ook hul liga vir die jaar gewen!
Seuns Eerste span wen vier van hul nege wedstryde
Tweede span wen vyf van hul agt wedstryde 
wen vyf van hul ses wedstryde
Die derde seunspan het hul liga vir die jaar gewen!

 

 

Brandwag het ook hierdie jaar `n professionele tennisafrigter, mnr. Cyril Uithaler, aangestel om die onderskeie eerste spanne af te rig. Ons spelers het besonder daarby gebaat. Die volgende spelers het daarin geslaag om al hul wedstryde vir die jaar in die dubbelspel te wen:

 

  • Tiaan Strydom en Ruan Kruger (seuns – tweede span)
  • Henk Conradie en Schalk Conradie (seuns – derde span)
  • Carli Cloete en Corlia Kruger (meisies – eerste span)
  • Chanique van Staden en Ilana Rens (meisies –  tweede span)

 

Die derde kwartaal se hoogtepunt was definitief die interskole-kragmeting teen Hoërskool Framesby. Brandwag het die afgelope drie jaar se kompetisies oorheers en dié jaar het Framesby verbete teruggeveg. Slegs ons eerste spanne het in die dubbelspel deelgeneem en gemengde welslae behaal.

 

Die meisies eerste span, Leandri Wolmarans, Anneke Swanepoel, Corlia Kruger en Monique Lessing, het Framesby 29-23 geklop.

Die seuns eerste span, Viljee Kruger, Theo Sherman, Dirk Basson en Danny Roets, moes egter 23-14 die knie buig teen `n sterk span van Framesby.

 

Gedurende die derde kwartaal vind die Brandwag-kampioenskap plaas waartydens spelers uitspeel vir hul posisies op die ranglys. Die wenners was soos volg:

 

  • Seuns enkelspelkampioen ;;;; Viljee Kruger 
  • Meisies enkelspelkampioen ;;;   Leandri Wolmarans

 

Brandwag gaan ook aan die Marko Wasserman-toernooi te Middelburg deelneem. Ses seuns en ses meisies is genooi om aan die prestige toernooi deel te neem.

 

Ons neem ook met groot hartseer afskeid van al ons matriekspelers. Die volgende spelers het Brandwag se eerste en tweede spanne met lof oor die afgelope vyf jaar gedien:  Mari Anker,  Anneke Swanepoel, Carli Cloete (almal meisies eerste span), Orpa Meijer (meisies tweede span), Viljee Kruger en Dirk Basson (albei seuns eerste span). Brandwag bedank hulle vir hul harde werk en toewyding oor die afgelope jare. Brandwag-tennis gaan julle voorwaar mis!

 

`n Spesiale woord van dank gaan aan meve. M. Hattingh, E. Kleinhans, E. Pretorius en me. K. Pienaar vir hul hulp met toesig by wedstryde en die vervoer van spelers.

 

M. MEYER

 

 

 

 

 

 

 

Verslag 2009

 

Brandwag-tennis is kerngesond en 2009 was `n kookwaterjaar vir die Brandwag-tennisspelers. Ons spanne was soos oudergewoonte uiters geslaagd en het weereens bewys dat ons `n krag is om mee rekening te hou.

 

Die jaar het oudergewoonte afgeskop met `n spanbou-sessie waar lede van die verskeie spanne sosiaal teen mekaar speel en nuwe spelers `n kans gegun word om hul merk te maak. In vroeg Maart het die jaar se liga-wedstryde in aanvang geneem en ons het drie seuns- en drie dogterspanne in die 1ste, 2de en 3de skoleligas ingeskryf. Hierdie liga-wedstryde strek oor die 1ste , 2de en 4de kwartale. Ons spanne het besonder goed gevaar soos blyk uit die volgende wedstrydstatistieke:

 

Dogters: 1ste Span – Wen al nege hul wedstryde.
2de Span – Wen ses van hul nege wedstryde.
3de Span – Wen al ses hul wedstryde.

;;;;;;;;;;;;;;;;;;;

Die 1ste en 3de spanne het dan ook onderskeidelik hul ligas vir die jaar gewen!

 

 

Seuns:  1ste Span – Wen vier van hul nege wedstryde.
2de Span – Wen ses van hul agt wedstryde.
3de Span – Wen drie van hul vyf wedstryde.

;;;;;;;;;;;  

 

Twee van ons spelers het `n  besondere eer te beurt geval, Regardt van der Merwe is vir die OP o/19 span gekies en Leandri Wolmarans is in die OP o/18 span opgeneem. Leandri het ook uitstekend gevaar as deel van die OP-span en het 2 van haar 3 wedstryde teen `n Grens-span gewen.

 

Die 3de kwartaal se hoogtepunt is definitief die Interskole kragmeting teen Hoërskool Framesby. Brandwag het die afgelope 2 jaar se kompetisies oorheers en dié jaar was geen uitsondering nie. Slegs ons 1ste spanne het in die dubbelspel deelgeneem en Framesby is behoorlik van die baan gevee met  Brandwag wat al hul wedstryde met 8/4, 8/3, 8/1 en 8/4 wen.

 

Gedurende die 4de kwartaal vind die Brandwag-kampioenskappe plaas waartydens spelers uitspeel vir hul posisies op die ranglys. Liga-wedstryde teen plaaslike skole asook sosiale wedstryde teen die Addo Tennisklub vind in Oktober plaas.

 

Ons neem ook met groot hartseer afskeid van al ons matriekspelers. Die volgende spelers het Brandwag se 1ste en 2de spanne met lof oor die afgelope 5 jaar gedien :  Hanré Enslin (dogters 1ste span), Regardt vd Merwe, Philip Skein, Tiaan Kleinhans (seuns 1ste span), Wilhelm du Toit, Ewald Els, Ray van den Berg en Mario Ferreira (seuns 2de span). Brandwag bedank hulle vir hul harde werk en toewyding oor die afgelope jare. Brandwag Tennis gaan jul voorwaar mis!

 

`n Spesiale woord van dank gaan aan mevv. M. Hattingh, E. Kleinhans en E. Pretorius vir hul hulp met toesig by wedstryde en die vervoer van spelers.

 

M. MEYER

TENNIS

 

  • Brandwag is bekend vir tennislegendes soos Christo van Rensburg.
  • Verskeie seuns en meisiespanne ding in verskillende ligas mee.
  • Brandwag-tennisspelers ontvang professionele afrigting.
  • Die eerste spanne ding mee in die A-liga.
  • Brandwag neem jaarliks deel aan die Marko Wasserman-toernooi op Middelburg.
  • Minder ernstige spelers kan deelneem aan sosiale tennis.

  

 

 

Scroll to Top