Stel jou voor: ’n yskastert, gemaak van jellie, kondensmelk, yoghurt en tennisbeskuitjies … en stel jou voor die tert is 4 meter lank en 4 meter breed – groot genoeg vir meer as 3000 porsies.
Dié yskastert is waarskynlik ’n nuwe Suid-Afrikaanse rekord wat nou behoort aan die ATKV Jeugtak Dinamika van die Hoërskool Brandwag op Uitenhage en is deel van die viering van die skool se tagtigste bestaansjaar.
Dié skool vier vanjaar sy tagtigste verjaardag deur elke kwartaal ’n ander projek te loods. Verlede kwartaal het meer as 800 leerders aan die pawiljoen-optrede deelgeneem, dié kwartaal is dit tyd vir lekker eet.
’n Reuse yskastert het ’n reuse spanpoging geverg. Die leerders van Brandwag het ongeveer 1000 pakkies jellie, 300 blikkies kondensmelk en 300 pakkies tennisbeskuitjies ingesamel. Clover het 300 kg Bliss yoghurt geskenk.
Brandwag se ATKV-skakel onderwyser, Karen Basson, sê Brandwag se ATKV-tak daag ander takke uit om ’n groter tert te probeer bak. Vir dié rede is Basson, die projekorganiseerder, ook traag om die presiese resep weg te gee.
Na ’n reuse- skoonmaakproses is ’n voedsel vriendelike Perspex-bak in die personeelkamer gebou. Altesaam dertig ATKV-leerders en vier personeellede, geklee in haarnette, handskoene, voorskote ensovoorts, het agt ure lank gewerk om die tert te “volbring”.
Net een kwart van die enorme tert was nodig om vir Brandwag se meer as 800 leerders en personeellede elk ’n 7 cm by 7 cm porsie te gee. Honger magies en soet-tande kon nader staan vir tweede en derde happies.
Die drie kwarte van die tert wat oorgebly het, is aan plaaslike liefdadigheidsorganisasies geskenk om Brandwag se soete verjaardag met soveel mense moontlik te deel.