Hoërskool Brandwag het die laaste naweek in Augustus ’n baie suksesvolle 2017 rugbyseisoen op ’n hoë noot afgesluit met ’n oortuigende 62-12 oorwinning oor Pearson.
Brandwag het 10 drieë gedruk in vir dié indrukwekkende vertoning van hardlooprugby.
In ander oorwinnings het Brandwag, onder meer, 8 drieë teen Daniel Pienaar (55-10), 5 drieë teen Muir (35-12), 17 drieë teen Otto du Plessis (105-8), 7 drieë teen Despatch (41-13) en 5 drieë teen Nico Malan (36-13) gedruk.
Altesaam sewe Brandwag spelers, Le Klue Stokes, Eldon Lotz, Zane Barnard, Elandré Smit, Chadd Adams, Juandré Sabbat en Dean Jordan het hulle staal vir die OP span by die o.18 Cravenweek gewys. Brandwag se hoofafrigter Christiaan van Schalkwyk het die OP Cravenweek span afgerig wat twee uit hul drie wedstryde gewen het. ’n Hoogtepunt vir die OP span was hulle 37-0 oorwinning oor die Blou Bulle waarin Brandwagters Stokes en Sabbat drieë gedruk het en Adams ’n sterspeler was.
Verder het twee eerste spanspelers, Franco Saayman en Chadwyn November die OP o.19 span gehaal, terwyl De Witt Stadler vir die OP Akademiespan gekies is. Altesaam tien lede van Brandwag se eerste span het dus provinsiale erkenning gekry.