Brandwag 55 – 10 Daniel Pienaar

Die feite is eenvoudig: Brandwag het Daniel Pienaar 55-10 verslaan in die 2017 FNB Classic Clash. Dit was Brandwag se 5de agtereenvolgende Classic Clash wen teen Daniel Pienaar. Brandwag het op sy tuisveld sy 80ste bestaansjaar met 8 drieë gevier.

Brandwag het ook altesaam 5 uit die 9 kragmetings op die dag gewen. Die netbal is weens nat bane afgestel. Sedert 2008 het Brandwag se eerste span slegs in 2012 naelskraap weg teen DP verloor.

Kaptein Chadwyn November het uitstekend gespeel en DP deurentyd op die agtervoet gehou. Sy skopwerk was sekuur, sy balverspreiding kreatief en sy vlymskerp breekslae het tot talle drieë gelei.

Voorlangs het Le Klue Stokes en Eldon Lotz uitstekend geskrum en die verdediging vir lewe en dood laat klou in die los. Die vaste vyf het voor oorheers terwyl die lostrio die bal indrukwekkend gedra het en hulself laat geld het op kruisverdediging. De Witt Stadler en Zane Barnard was baas in die lynstane, terwyl Donovan Stevens, soos gewoonlik, eerder bo-oor as om die verdediging gehardloop het.

Shedrick Latola en Chadwyn het so vroeg DP se lyn gebreek dat DP moes geweet het daar kom moeilikheid. Dit het Gavin Kriel net 3 minute geneem om Brandwag se eerste 3 punte aan te teken. Slegs 6 minute later het Le Klue oorgeduik vir die eerste drie.

Na 12 minute het DP se losskakel Dylan Le Roux sy span se enigste 3 punte van die eerste helfte aangeteken. Vyf minute later het haker Waldo van Greunen Brandwag se tweede drie gedruk. Daarna het skrumskakel Chadd Adams – wat telkens op die regte tyd op die regte plek was – twee agtereenvolgende drieë gedruk.

Op die nippertjie voor rustyd het Chadwyn ambisieus (met die telling veilig op 27-3) ’n strafskop vanaf die middellyn probeer, wat net-net mis was.

Agtsteman en onderkaptein Elandré Smit het na net 7 minute in die tweede helfte die eerste van sy twee drieë gedruk. Sy vaart-versnelling van agter die skrum en losskrums het DP se verdedigers telkens in die modder agtergelaat. Chadwyn het net 2 minute later ’n welverdiende drie onder die pale gedruk na nog een van sy indrukwekkende breekslae.

Dit was 11 minute voor die einde van die wedstryd voordat DP se kaptein Ryan Oliphant sy span se enigste drie kon druk. Die losskakel se verdoelskop was die laaste van DP se totaal van 10 punte vir die dag.

Die laaste drie van die dag het aan vleuel Dean Jordan behoort wat alle verdediging aan die buitekant geklop het om agter die pale te druk. Met Brandwag se uitstekende spel in die middelveld, het Dean nie baie kanse gekry nie, maar hy het goed gekombineer met Fergus Matola op heelagter wat heelmiddag veilig onder die hoë bal was. Senters Louis Botha en Juandré Sabbat se werkverrigting was ook hoog. Louis het telkens met vaart die lyn reguit getrek terwyl Juandré goed met die agterste drie gekombineer het.
Linkervleuel Gavin Kriel het, behalwe sy strafskop, ses drieë verdoel vir ’n totaal van 15 punte en sy tikskoppie was die aanloop tot een van Brandwag se drieë.

Kaptein Chadwyn November lig die Classic Clash-trofee nadat die skoolhoof, mnr. Zietsman, dit aan hom oorhandig het.
Scroll to Top