’n Produksiespan van KykNet se Skole Top 10-program het onlangs by Brandwag gekuier vir die se aanbieding van dié musiekprogram.
Die skool het vooraf gestem vir hul gunsteling musiek en leerders het in baie verskillende hoedanighede die kans gekry om liedjies vir die program aan te kondig. Opnames is oral oor die skoolterrein gemaak – onder meer, op die tennisbane, netbalbaan en op die hokkie- en rugbyveld. Leerders en hul onderwysers kon ook kreatief te werk gaan met die aankondiging van advertensiebreke. Die hele skool het saam skoolgees op die pawiljoen gewys terwyl verskillende skoolaktiwiteite ook hulle kans voor die kameras gekry het. Selfs die Interact-klub het ‘n kans gekry om aanbieders te wees. Kykers kan uitsien na tonele uit die wiskunde- en verbruikerstudieklasse en sal kan sien hoe die leerlingraad op die vierkant dans asof hulle by ‘n sokkie is.
Die datum van die uitsending sal later bekend gemaak word. Belangstellendes kan die skool se Awsum-toep, Facebook-blad en webtuiste dophou vir die aankondiging van die datum.