Brandwag se steratleet, Levert Pieterse, het onlangs ’n silwermedalje in 110m hekkies vir seuns o.17 by die Junior Afrika Spele in Mauritius ingepalm.
Vroeër dié seisoen het Levert, 17 jaar en in graad 12, ’n silwermedalje vir 110m hekkies by die SA Junior Kampioenskap verower en ’n bronsmedalje by die SA Skolekampioenskap.
Met ’n tyd van 13,72 het hy gekwalifiseer vir die Junior Wêreldkampioenskap en is hy gekies vir die SA Junior Atletiekspan wat aan die Junior Afrika Spele in Mauritius deelgeneem het.
Levert het in Mauritius tweede gekom en met 13,62 weereens vir die Jeug Junior Kampioenskap in Colorado gekwalifiseer.
Hy wag nou in spanning vir die aankondiging van die span wat Suid-Afrika in Colorado gaan verteenwoordig.
Levert is die afgelope paar jaar reeds ’n bekende gesig by nasionale atletiekbyeenkomste sedert hy in 2013 die goue medalje by die ASA-byeenkoms gewen het.
Sy afrigter, Karel Gerber van die Madibazklub, glo hy kan by die Jeug Wêreldkampioenskap deurdring tot die finaal.