Hoërskool Brandwag het op Vrydag 25 April tydens ’n waardige saalbyeenkoms afskeid geneem van die skoolhoof, mnr. Wilhelm Meyer, wat aftree.
Mnr. Meyer was vir die afgelope agt jaar, sedert Augustus 2007, skoolhoof van Brandwag. Hy het in 1983 sy loopbaan as onderwyser by Hoërskool Pearson begin en was sedert 1986 by Brandwag.
Tydens sy loopbaan by Brandwag was mnr. Meyer onder meer ’n geskiedenisonderwyser, koshuisvader by Huis Eike en afrigter van die eerste rugbyspan.
Na afloop van die saalbyeenkoms het die hele skool ’n erewag gevorm tot by mnr. Meyer se huis in Barklystraat. Die matrieks het mnr. Meyer en sy vrou, Hantie, by hul voorhek ingewag met 33 ballonne, een vir elkeen van sy jare in die onderwys, wat hulle laat opstyg het nadat hulle mnr. Meyer gegroet het.
Mnr. Thinus Koekemoer sal voortaan waarneem as skoolhoof totdat ’n finale aanstelling gedoen word.