28 Maart 2014
Geagte Ouer
Die eerste kwartaal van 2014 het getrou aan die Brandwag tradisie vir groot opwinding gesorg. Die nuwe graad 8-leerders het baie mooi aangepas en deel geword van die band van grys en groen. Die interlaer atletiek, swemgala, Valentynsbal, matriekafskeid en die gewilde Anibrandfees is maar enkele van die hoogtepunte. Ons wil u as ouer bedank vir die ondersteuning van die Anibrandfees en die ander geleenthede. Baie dankie vir u lojale en positiewe gesindheid teenoor Brandwag.
Bestudeer asseblief u kind se toetsverslag wat by hierdie skrywe ingesluit is. U sal egter ‘n beter beeld van u kind se vordering kry na die Wintereksamen in Junie 2014. U word vriendelik uitgenooi om die oueraand op Dinsdag 15 April 2014 by te woon. Onderwysers sal soos gewoonlik in hul klaskamers beskikbaar wees tussen 18:00 en 20:00. U kan dan sommer van die geleentheid gebruik maak om ons pragtige, opgegradeerde netbalbane te besigtig. Groot dank aan Brandwag se beheerliggaam wat saam met die personeel die projek ondersteun het.
Baie sterkte aan die volgende groepe wat saam met die afrigters by verskeie vakansie aktiwiteite betrokke is. Ons bid vir beskerming en ‘n veilige reis.
Hokkie: o/16 en o/19 – Toernooi by Kovsies in Bloemfontein
Rugby: o/15A – Toernooi in Oos-Londen
o/16A – Toernooi in Graaff-Reinet
o/18A – Toernooi by Oakdale in die Suid-Kaap
Atletiek: Nasionale byeenkomste in Polokwane en Stellenbosch
Skaak: Nasionale geslote toernooi in Stellenbosch
Neem ook asseblief kennis dat die leerders in volle wintersdrag geklee moet wees vanaf Maandag 5 Mei 2014. ’n Baadjie en das is verpligtend. Ons wil u aanmoedig om betyds reëlings te tref. U kan ook navraag doen by die skool se klerewinkel. Die Brandwag-familie is trots op sy skooldrag en ons wil nie graag die mooi tradisie verbreek nie.
Geniet die vakansie as familie.
Brandwaggroete!
W. MEYER
SKOOLHOOF
“Wat ’n wonderlike gevoel van vrede en rustigheid
moet dit nie wees as ons al ons vrese en bekommernis
vir God gee nie”