Sowat dertig leerders van Hoërskool Brandwag oefen al maande aan ’n musiekblyspel wat vroeg in Augustus op die planke gaan wees.
“Lelie van Lapland” is ’n oorspronklike produksie geskryf deur onderwyser Cecile van der Westhuizen met oorspronklike musiek deur onderwyser Isabella Scheepers en oudleerders Björn Bester en Lamees Barendse. Dit vertel die storie van kinders uit arm huisgesinne wat dikwels veel meer verantwoordelikheid vir die gesin moet dra as hulle maats. Ten spyte van die ernstige tema is die blyspel ’n vrolike kombinasie van sang en dans met twee bedrywe.
Die leerders wat die verhoog aandurf, het as gemeenskapsdiens vir Mandeladag die strate van Lapland op Uitenhage gaan opruim.
’n Ouer, Irene Jonck, wat by Santam werk, was so geïnspireer deur die storie wat die leerders uitbeeld dat sy ook as ’n Mandeladag-projek ’n skenking van R5000 vir die jongmense van Lapland gereël het. Die geld gaan aangewend word om rekenaarklasse vir die jeug in Lapland aan te bied.
“Lelie van Lapland” is op 10, 11 en 12 Augustus by Brandwag op die planke. Die optrede op 10 Augustus is spesiaal vir senior burgers, wat gratis toegang kry en laerskoolkinders wat die blyspel op dié aand vir R5 kan kyk. Op 11 en 12 Augustus kan die publiek die produksie sien teen R20 vir leerders en R30 vir volwassenes. VIP-kaartjies is vir 12 Augustus beskikbaar teen R50. Vir meer inligting kontak die skool by 041 922 8188.