Brandwag se beste tennisspelers het ’n opwindende Junievakansie agter die rug. Nie net het vier provinsiale spelers onoorwonne van hul toernooi teruggekeer nie, maar een het ook Suid-Afrika in Engeland verteenwoordig en selfs ’n paar wedstryde by Wimbledon bygewoon.
Die OP-spelers het op George teen Noord-Kaap en SWD kragte gemeet. In die o.14-afdeling het Richard Kunneke en Chyanne Mulder al hulle wedstryde gewen, terwyl Demi Jonck in die o.16-afdeling ook onoorwonne was. Logan Heyns het in die nommer 1-posisie vir die o.19 OP-span deelgeneem en ook al haar teenstanders geklop.
Intussen het Anja de Beer as lid van die o.17 SA-skolespan teen Midfield College en die Sutton-akademie in Engeland gaan deelneem. Die SA-span het enkel- en dubbelspelwedstryde teen Midfield gespeel en eindelik 24-22 gewen. Die Sutton-akademie spesialiseer in kleibaan-tennis en die SA-span het daar gemengde welslae behaal. Tussendeur die tennis was daar tyd om besienswaardighede soos Buckingham-paleis, die Westminister-katedraal en Stonehenge te besoek. Volgens Anja was die hoogtepunt van die toer egter hulle besoek aan Wimbledon ten tye van dié klub se wêreldbekende toernooi. Sy kon onder andere vir Raven Klaasen, Juan Martín del Potro en Agnieszka Radwańska in aksie sien.