De Wet het skoonskip gemaak by die interlaer-atletiekbyeenkoms.
Die leerlinge op die pawiljoen het behoorlik na hulle asems gesnak toe De Wet se rasieleiers in ’n helikopter op die veld geland het. ’n Oudskolier, Pietie Ferreira van Endulini-boerdery, het goedgunstiglik sy helikopter aan sy eertydse span geleen.
Dit was egter nie net hul aankoms wat asemrowend was nie. De Wet het heeldag lank op die pawiljoen hulle atlete aangemoedig en ook op die veld die kompetisie oorheers.
Die kraaie gaap gewoonlik op Brandwag se jaarlikse atletiekbyeenkoms. Vanjaar se ietwat koeler, bewolkte weer het dalk die atlete ’n bietjie ekstra energie gegee, want elf rekords het op die dag gekantel.
Teen die einde van die dag was De Wet die oorweldigende wenners en hulle het ook met die spangees-beker weggestap. Retief was tweede en Kruger derde.