Brandwag se akademiese sukses is geensins toeval nie. Streng oorhoofse beheer, samewerking van ouers en harde werk is noodsaaklik vir sukses. Hier volg enkele van die redes hoekom Brandwag akademies sukses geniet:
- Mev. Eerika Roux is die akademiese hoof van Brandwag en beheer alle akademiese aangeleenthede.
Maatreëls om prestasie aan te moedig:
- Akademiese prestasie word erken deur middel van die akademie top 10 wat aan die begin van elke kwartaal aangekondig word. Die top 10 per graad dra ´n balkie as erkenning vir hul prestasie.
- Leerders wat na afloop van die November-eksamen op die akademie top 10 is, word aan die begin van die volgende jaar op ´n spesiale uitstappie geneem.
- Merietetoekennings, vakpryse, beste prestasiepryse en ander spesiale toekennings word jaarliks by die prysuitdeling toegeken.
- Erekleure vir akademie word op die jaarlikse prysuitdeling toegeken aan leerders wat aan die vereistes voldoen. Brandwag se erekleure is ´n wit baadjie wat op Maandae en Vrydae gedra mag word.
- ´n Dux-leerder vir elke graad word by die jaarlikse prysuitdeling aangewys.
- Die top drie presteerders per graad in die eindeksamen onvang afslag op skoolfonds vir die volgende jaar.
Maatreëls om sukses te verseker:
- Streng dissipline en toegewyde onderwysers in elke klas verseker ´n positiewe leeromgewing.
- Alle vakonderwysers lig die akademiese hoof dadelik in oor probleme in vakke.
- Indien ´n leerder akademies probleme ervaar, skakel die akademiese hoof die betrokke leerder se ouers.
- Oueraande word in die tweede en derde kwartale gehou. Oueraande is altyd van 18:00 – 20:00 op die Dinsdagaand van die week nadat die skool geopen het. Tydens oueraande kan ouers die vordering van hul kinders direk met vakonderwysers bespreek.
- Skoolbywoning is van groot belang vir akademiese sukses en word streng deur die graadhoofde gemonitor.
- Die korrekte vakkeuse vir leerders in graad 10 tot 12 is van die grootste belang om sukses te verseker.
- Die ouers van graad 9-leerders word jaarliks genooi na ´n vakkeuse-oueraand waar vakkeuses in detail met hulle bespreek word. Ouers word by hierdie vergadering ook ingelig oor slaagvereistes en die vereistes vir tersiêre opleiding.
- Die wiskundedepartement hou jaarliks ´n oueraand vir die ouers van leerders in graad 8 en 9.
- Verskeie van Brandwag se wiskunde-onderwysers bied ekstra klasse aan vir leerders wat hul punte wil verbeter.
- Alle matrieks wat wiskunde neem, het weekliks ´n ekstra wiskundeklas in die oggend voor skool.
- Matrieks wat wiskunde neem, kan in die Septembervakansie die skool se wiskunde lenteskool bywoon om hulself vir die eindeksamen voor te berei.
- ´n Fisiese Wetenskapwinterskool word in die Julie-vakansie vir matrieks aangebied.
- ´n Akademie word jaarliks vir matrieks aangebied waarin hulle ekstra klasse saans bywoon met die doel om hul punte te verbeter.
- Behalwe vir die bogenoemde maatreëls word baie moeite tydens pouses, na-ure en natuurlik in klastyd deur onderwysers gedoen om beide leerders wat sukkel asook begaafde studente te help om tot die beste van hul vermoë te presteer.