Matriekuitslae 2015

Met 5 leerders wat 7 onderskeidings elk behaal het en 13 matrieks wat A-gemiddeldes verwerf het, het Hoërskool Brandwag se 2015-klas weereens bewys Brandwag is die top Afrikaanse hoërskool in sy omgewing.

Die klas van 2015 het gesamentlik 156 A-vaksimbole behaal.

Brandwag se slaagsyfer is 99,4% (162 uit 163) en dié skool spog ook met 74,7% van die 2015-matrieks wat toelating tot graadstudie verkry het terwyl 24,7% toelating tot diplomastudie behaal het.

Brandwag se toppresteerder is hoofmeisie Elrike Hugo met 7 A’s met ’n gemiddeld van 89,4%. Elrike is ook die 2015 Dux-leerder en het in elke jaar van haar hoërskoolloopbaan die nommer 1 posisie beklee. Sy gaan begin vanjaar (2016)  met B.Sc. by die Universiteit van Stellenbosch. Hoofseun en rugbykaptein Stefan Janse van Vuuren het 4 A’s en ’n gemiddeld van 80,1%.

Twee van Brandwag se toppresteerders gaan vanjaar medies studeer. Hulle is Clifford Bartman (Universiteit van Pretoria) en onderhoofseun Kevin Higgs (Universiteit van Kaapstad).

Scroll to Top