Die Hoërskool Brandwag se sportsterre van die jaar is op 10 Oktober by die jaarlikse Sportdinee aangewys.
Alle sportpryse word tydens die Sportdinee oorhandig. Pryse vir akademie en kultuur word op die jaarlikse prysuitdeling oorhandig.
Oudspringbok Adri Geldenhuys was die gasspreker by die dinee en het die presteerders se pryse oorhandig. Die toppresteerders se pryse is deur die skoolhoof, mnr. S.G. Zietsman, oorhandig.
Junior Sportman en Sportvrou van die jaar
Die junior wenners is Anja de Beer en Kyle Erasmus. Anja is ’n SA-tennisspeler wat vroeër vanjaar saam met die SA o.17-span in Londen deelgeneem het, al is sy in die OP se o.15-span. Sy speel netbal vir die o.16A-span en het in skyfwerp aan die OP-kampioenskap deelgeneem. Anja het die trofee vir die beste sportprestasie van die jaar ontvang.
Kyle speel skaak vir die skool se A-span en rugby vir die o.16A’s. Hy het Brandwag by die metro-atletiekbyeenkoms verteenwoordig en speel vir die eerste krieketspan.
Senior Sportman en Sportvrou van die jaar
Octavian Muller en Caryn-Ann Howard is aangewys as die senior sportman en sportvrou. Octavian het deurgedring na die SA Junior Atletiekkampioenskap in verspring. Hy het vanjaar 29 drieë vir Brandwag se eerste rugbyspan gedruk. As lid van die o.18 OP-Cravenweekspan het hy ook twee drieë gedruk en nog vyf vir die o.17 OP-sewesspan.
Caryn-Ann het die OP o.17-span in hoogspring verteenwoordig by die SA Junior Kampioenskap in Kaapstad en die SA Hoërskolekampioenskap op Potchefstroom. In die Kaap het sy ’n bronsmedalje gewen. As verdediger het Caryn-Ann puik spel vir Brandwag se eerste netbalspan uitgestal en sy is ook vir die Oos-Kaap-span gekies. Sy moes egter onttrek aangesien sy in Julie modelwerk in Italië gedoen het.