Brandwag wen DP in 2014 Classic Clash

Brandwag het Saterdag in ’n klipharde stryd 10-9 koning gekraai in die jaarlikse FNB Classic Clash met HTS Daniel Pienaar.

Brandwag het twee drieë gedruk terwyl Daniel Pienaar drie strafskoppe aangeteken het. Albei spanne het goed verdedig en elke speler wat aan die bal geraak het, is met mening deur die opposisie op die grond neergesit.

DP was in die eerste helfte binne 5 minute 6-0 voor danksy twee vinnige strafskoppe deur losskakel Denver Klue.

Brandwag het twaalf minute voor rustyd die eerste drie gedruk. Agsteman en kaptein Stefan Janse van Vuuren het van agter die lynstaan weggebreek en die bal vir skrumskakel Brandon O’Neill aan sy buitekant gegee wat in die hoekie oor die doellyn geduik het.

Die rustydtelling was 6-5 vir DP.

In die tweede helfte het Klue geslaag met ’n verdere strafskop om die telling 9-5 vir die tuisspan te maak.  Brandwag-senter Derick du Toit het die wendrie na 22 minute gedruk nadat flank Morné Moos DP se verdediging langs die kantlyn ontwyk het.

In die laaste paar minute het toeskouers behoorlik naels gekou toe DP met die telling op 10-9 vir Brandwag twee keer strafskoppe na die pale gemik het. Albei pogings is egter verbrou.

Dit is Brandwag se tweede agtereenvolgende oorwinning oor DP en Brandwag se 6de Classic Clash-oorwinning oor DP uit 7 wedstryde sedert 2008.

Clash 2014

Scroll to Top