Op 7 Mei het die heelagter van Brandwag se eerste rugbyspan, Dano Swart, ’n ernstige nekbesering tydens OP-proewe opgedoen. Dano het dieselfde dag ’n noodoperasie ondergaan en is tans steeds in die hospitaal waar daar in die intensiewe sorgeenheid na hom omgesien word.
Dano ontvang vragte bemoedigende boodskappe van wyd en syd wat hoog op prys gestel word. Die skool doen egter ’n beroep op ondersteuners om die familie se “Bid vir Dano”-groep op die Telegram-toep te besoek vir nuus en nié die Swart-gesin, wat deur ’n moeilike tyd gaan, direk te kontak nie.
Slegs familie mag pasiënte in intensiewe sorg besoek. Die Telegram-groep bied aan almal die geleentheid om Dano sterkte toe te wens.
Hou die skool se webwerf en Facebook-blad dop vir nadere besonderhede in verband met reëlings om die familie prakties te ondersteun wat binnekort beskikbaar sal wees.
Dano is ’n matrikulant wat sedert die begin van verlede jaar vir die eerste rugbyspan uitgedraf het. Hy is ook die span se onderkaptein, kaptein van die eerste krieketspan, ’n belowende kolwer en ’n lid van die raad van leerders.
Sy twee ouer sussies was albei ook in Brandwag; die Swart-gesin is al baie jare deel van die Brandwag-familie.