Brandwag se eerste rugbyspan het sewe drieë gedruk vir ’n oortuigende 48-13 sege teen Daniel Pienaar tydens 2019 se FNB Classic Clash tussen dié twee skole. Dis die sewende agtereenvolgende keer dat Brandwag die Classic Clash teen Daniel Pienaar wen. Haker Gideon Serfontein is as die speler van die wedstryd aangewys na ’n inspirerende vertoning waarin hy twee drieë gedruk het. Octavian Muller het ook twee drieë vir Brandwag gedruk. Heelagter Dano Swart het vyf drieë verdoel en ’n strafskop tussendeur die pale gestuur.
Alhoewel Brandwag en Daniel Pienaar al dekades teen mekaar rugby speel, is die jaarlikse kragmeting sedert 2006 as die FNB Classic Clash bekend danksy FNB se borgskap. Brandwag het tien uit die dertien Classic Clashes sedert 2006 gewen.