Drie A’s na Guillian-Barré

Skaars drie jaar gelede kon sy nie praat of op haar eie asemhaal nie. Nou spog Monique Huyser, een van Brandwag se 2017-matrieks, met drie onderskeidings en ’n gemiddeld van 77,4%.

Aan die begin van 2014 was Monique graad 10-jaar en ’n ywerige atleet, maar tydens die Julie-vakansie van dié jaar het haar lewe drasties verander toe sy die selfsame siekte, Guillain-Barré-sindroom, opgedoen het.

Dié siekte veroorsaak dat die liggaam se immuunstelsel die senustelsel aanval, wat tot verlamming van spiere lei. Binne dae het Monique se toestand van blakend gesond tot verlam en gekoppel aan ’n ventilator versleg. Sy het 149 dae in die hospitaal deurgebring, waarvan 133 dae op ’n ventilator was. In dié tyd, het sy twee keer ophou asemhaal.

Monique kon eers in die tweede kwartaal van 2015 terugkeer skool toe om haar gr.10-jaar te voltooi. Aanvanklik moes sy in ’n rolstoel oor die weg kom, maar mettertyd het sy eers met krukke en toe op haar eie begin loop. Haar balans was egter steeds nie goed nie omdat haar voetspiere nie normaal werk nie en sy het die drie laaste jare van haar skoolloopbaan in haar skoolsweetpak en tekkies voltooi.

Tydens die eindeksamen het Monique vir ekstra tyd gekwalifiseer omdat haar handspiere maklik seer raak en dit moeilik maak om vinnig te skryf. Ten spyte daarvan het sy met heelwat pyn in haar hand geskryf.

Monique hoop haar uitslae sal in die toekoms vir haar deure oopmaak.

“Al is ek al deur veel erger as ’n matriekeindeksamen, het die eksamen my tog laat besef dat ek met harde werk en selfvertroue enige iets kan bereik. Ek is baie verlig en trots op my uitslae,” het sy gesê.

Sy hoop om in die toekoms in ’n mediese rigting te studeer om ander te help, soos wat sy gehelp is.

Scroll to Top