’n Graad 11-leerling van Brandwag het in die Julie-vakansie so te sê New York aan haar voete gehad toe sy by die internasionale Talent America-kompetisie as die model van die jaar aangewys is.
Nerisha het ook ’n groot klomp ander titels gewen en duidelik die groot paneel beoordelaars beïndruk.
Sy het vier verskillende afdelings vir modelwerk, wat wissel van swemklere tot formeel, die eerste plek behaal en het ook twee danskategorieë gewen en was die naaswenner in ’n derde kategorie. Sy het ook die eerste plek behaal in die kategorie vir foto-modelwerk. Nerisha is aangewys as Miss Talent America 2019 en het ook die Division- en Pinnacle-toekennings gewen.
Vier verskillende agentskappe wat modelle en dansers kontrakteer het ontmoetings met Nerisha aangevra. Sommige van die agentskappe soek modelle vir fotografie of modeparades, maar ander kontrakteer dansers vir blyspele op Broadway en ander optredes wat televisiewerk insluit.
Nerisha, wat ook akademies goed presteer, straal as sy vertel van haar ervaring in New York. Sy het sommer dadelik verlief geraak op die stad en het rondgerits om al die bekendste besienswaardighede in die stad te besoek.
Sy sê sy het glad nie verwag om so goed te vaar in die kompetisie nie en het eintlik beter gevaar by Talent America as by Talent Africa waar sy ook een van die groot uitblinkers was.
Sommige van die agentskappe wou hê Nerisha moes sommer dadelik in New York aanbly. Sy is van plan om eers haar skoolloopbaan te voltooi, maar wil beslis daarna na New York terugkeer vir ’n moontlike loopbaan as model en danser.