Elf rekords het in die slag gebly tydens die kleure-atletiekbyeenkoms van die Hoërskool Brandwag op Uitenhage. Nege van dié rekords is deur atlete in die De Wet-span aangeteken, wat ook die byeenkoms gewen het. Die ander twee behoort aan die Retief-span.
Twee o.14-meisies het drie rekords ingeryg. Donna-Leigh Douglas het rekords in die 200 en 400 meter agter haar naam geskryf terwyl Ilke Douglas die gewigstootrekord verbeter het.
By die o.14-seuns het Keanu Bruintjies die skyfwerp- en gewigstootrekords laat spat terwyl Brogan Sepkit die nuwe 200 meter aangeteken het.
Die o.15’s Heike Groenewald en Anika Ferreira het elk ’n nuwe rekord vir onderskeidelik gewigstoot en driesprong. Ruben Barnard en Kyle Erasmus het onderskeidelik die seuns o.16 en o.17 gewigstootrekords laat kantel.
Die rekord van die dag behoort egter aan Morné van der Berg wat die o.15-rekord vir 800 meter, wat in 1978 deur Johan Wahl opgestel is, syne gemaak het.