Klas van 2024 praat oor hulle prestasies

Brandwag se klas van 2024 is vol lof vir hul skool, hul onderwysers, hulle kameraderie as jaargroep en hulle ouers vir die besondere goeie prestasies wat hulle behaal het.
Lia van der Merwe sê haar gunstelingvakke was “albei tale”. “Juf. Viljoen het my baie gemotiveer en juf. Smith het my deur die goeie en slegte tye bygestaan.
Nog ’n matriekmeisie, Anika Maree (4 onderskeidings), sê haar gunstelingvak was Biologie by juf. Sparke. Sy wil ook graag in die toekoms in ’n soortgelyke rigting gaan en hoop om vir biokinetika aanvaar te word. “Brandwag se onderwysers het my baie gehelp,” sê Anika.
Brandwag se nr. 5 –toppresteerder, Andries Mellet, sê sy Wiskunde-onderwyser, juf. Zietsman, was briljant en een van sy gunstelingonderwysers ooit. Andries het sy beste punte vir RTT behaal en alhoewel hy sê hy al van kleins af met rekenaars werk, noem hy dat klas by juf. Nell baie lekker was en dat sy baie met die “pats” gehelp het. Andries wil B. Rek. gaan swot op Stellenbosch.
Brandwag se hoofseun van 2024, Hein Kotzé, sê IGO was sy gunstelingvak. Hy sê ook sy Wiskunde-onderwyser, juf. Zietsman, het hom die meeste gehelp. Hein skryf Brandwag se klas van 2024 se sukses toe aan hulle goeie onderwysers en die kameraderie van al die matrieks. “Ons was almal saam in die ding,” sê hy. Hein sê sy pa, Jacques, is sy inspirasie om vanjaar megatroniese ingenieurswese te studeer.
Brandwag se 2024-onderhoofmeisie, Kristen Heyns (Babsie) sê juf. Ferreira is die beste Rekeningkunde-leerkrag en was “’n groot deel van haar sukses.” Babsie het, soos Hein, ook gesê die matrieks was altyd almal in dieselfde bootjie en het staatgemaak op die hulp van hulle onderwysers.
Nog ’n toppresteerder wat juf. Ferreira as sy beste onderwyser beskou, is Quinn van Rooyen. Hy is van plan om B. Rek. by NMU te studeer. Quinn wil ook graag by rugby afrigting betrokke raak.
Telanie Kritzinger, die 2024-hoofmeisie, sê haar beste vakke was Biologie en Skeinat. Sy sê haar beste onderwysers was juf. Smith en juf. Snyman. “Juf. Smith was net soos my ma by die skool en op ’n moeilike dag, kon sy altyd help. Ek kom ook al ’n lang pad met juf. Snyman en ek het gevoel ek het ’n baie goeie verhouding met haar.”

Op die foto is ’n paar van Brandwag se topmatrieks. Van links is Andries Mellet (6 onderskeidings), Quinn van Rooyen (5 onderskeidings), Kristen Heyns (6 onderskeidings), Hein Kotzé (5 onderskeidings), Telanie Kritzinger (5 onderskeidings), Danielle Ellis (3 onderskeidings), Chloë Gouws (7 onderskeidings), Fonziiaan Carelsen (3 onderskeidings) en Lia van der Merwe (4 onderskeidings). Agter is Libbie Marais (4 onderskeidings), Michaela Oliphant (5 onderskeidings), Anika Maree (4 onderskeidings) en Hannah Odendaal (5 onderskeidings)

Scroll to Top