Twee graad 11-meisies van die Hoërskool Brandwag is gekies vir die Suid-Afrikaanse kragoptelspan nadat hulle uitstaande prestasies by die SA Borsopdruk-kampioenskap gelewer het. Dié kampioenskap is onlangs by Kaap Recife-skool beslis.
Heike Groenewald het in die o.69 kg-afdeling deelgeneem en met ’n gewig van 57,5 kg die eerste plek behaal en ook ’n nuwe Suid-Afrikaanse rekord opgestel.
Anika Ferreira het in die o.63 kg-divisie deelgeneem en ook 57,5 kg gelig, wat aan haar ook ’n eerste plek in haar gewigsafdeling besorg het.
Albei meisies is nou ingesluit by die Protea-span wat later vanjaar aan die Afrika Kampioenskap (Junie in Potchefstroom), die Wêreldkampioenskap (Oktober in Kazakhstan) en die Statebondspele (Desember in Nieu Seeland) gaan deelneem. Op die foto wys Anika (links) en Heike die medaljes en trofeë wat hulle verower het.