Krieket wen 5 in ‘n ry

Brandwag se 1ste krieketspan het uitstekend gevaar in die eerste deel van die 2017-seisoen deur vyf uit hulle sewe wedstryde te wen. Boonop het hulle die vyf laaste wedstryde agtereenvolgend gewen.

Die vyf wenne was teen Nico Malan, Victoria Park, Grey (3), St Dominic’s en Muir.

Nico Malan het eerste gekolf en 163/7 aangeteken in die toegelate 40 boulbeurte. Brandwag het dié telling met 3 paaltjies staande verbygesteek. Kaptein Bevan O’Neill het 57 onoorwonne lopies aangeteken en is ondersteun deur C.J. Jordaan wat 25 aangeteken het.
Brandwag se beste boulers op die dag was De Wet Alberts met 2 vir 16 in 6 beurte en Chadwin November met 2 vir 23 in 5 beurte.

Ook teen Victoria Park het Brandwag tweede gekolf en hul teenstanders se 144 lopies met 5 paaltjies staande verbygesteek. O’Neill het weereens uitgeblink met 43 lopies, terwyl Fergus Latola met 61 nie uit nie die beste van die kolwers was. Jeandré Swanepoel het 3 vir 20 geneem in 8 beurte en Chadwin November 2 vir 20 in 7 beurte.

Brandwag het Grey se derdes vir 54 uitgeboul en met 8 paaltjies gewen. Onderkaptein Corrie de Ridder het 37 nie uit nie aangeteken. Jeandré Swanepoel neem 3 vir 10 in 6 beurte, Jano Schoonraad 4 vir 6 in 5 beurte en De Wet Alberts 2 vir 15 in 5 beurte.

Teen St Dominic’s kolf Brandwag eerste en teken 183 lopies aan. Die beste kolwers was Corrie de Ridder (61), Chadwyn November (34), C.J. Jordaan (25) en Dano Swart (20). Brandwag se boulers saai verwoesting deur St Dominic’s vir 43 uit te boul en wen dus met 140 lopies. Die veldwerk was van ’n hoë gehalte en Zane Barnard het twee uitstekende vangkanse benut. Die beste boulers was Jeandré Swanepoel (2 vir 10 in 6 beurte), Chadwyn November (2 vir 2 in 2 beurte), Corrie de Ridder (2 vir 14 in 4 beurte) en De Wet Alberts (2 vir 4 in 2 beurte).

In die laaste wedstryd teen Muir het Brandwag 225 vir 7 aangeteken in 50 boulbeurte. Die beste kolwers was Fergus Latola (30), Boeta Potgieter (32), Corrie de Ridder (44) en Bevan O’Neill (77 nie uit nie). Brandwag raak van Muir ontslae vir 94 lopies en wen dus met 131 lopies. Die beste boulers was Chadwyn November (3 vir 15 in 6 beurte) en Jano Schoonraad (5 vir 7 in 5 beurte).

Scroll to Top