Richard is die 3de blitsigste brein in SA

Leerlinge van oraloor die land het meegeding om vas te stel wie se algemene kennis die beste is en die enigste Oos-Kapenaar wat beïndruk het met sy wêreldwysheid, is Richard Kunneke van Brandwag.

Netwerk24, in samewerking met Die Burger, Beeld en Volksblad, het vanjaar vir die eerste keer die algemene kennis-kompetisie Blitsbrein Junior aangebied. Leerlinge kon in die afdeling vir graad 8 en 9 deelneem of meeding in die graad 10- en 11-afdeling.

Dertig finaliste vanuit die hele land het aan die finale ronde deelgeneem, tien van Beeld, tien van Volksblad en tien van Die Burger (Oos- en Wes-Kaap).

Richard Kunneke, ’n graad 9-leerling Brandwag, was die enigste deelnemer uit die Oos-Kaap, maar het daarin geslaag om nasionaal die derde plek in die graad 8- en 9-afdeling te verower.

Met dié prestasie het Richard R5000 vir homself en R5000 vir sy skool gewen. Richard sê hy het nie verwag om so goed te vaar nie, maar was tog hoopvol.

“Ek dink ek sal die geld spaar, of dalk sal ek dit vir sporttoerusting gebruik,” sê Richard wat ook rugby, krieket en tennis speel en ’n top- akademiese presteerder is.

“Ek bly meestal op hoogte oor belangrike nuusgebeure in die wêreld. Ek het van jongs af al ensiklopedieë begin lees en ek onthou nog alles wat ek gelees het. Ek het ’n wye veld van belangstelling, soos plante, geografie, geskiedenis en algemene nuus.”

Richard het verlede jaar ook die agste plek in die land in die Wêreldkennis-olimpiade behaal toe hy nog in graad 8 was en was vanjaar oor ’n lid van Brandwag se span wat aan die ATKV se Vlymskerp-vasvra deelgeneem het.

Scroll to Top