So staan ons en staar hoe die pylvak van 2023 op ons is, die wenstreep is in sig, maar terselftertyd het die binnebaan van ons atletiekbaan ook sy einde bereik. Na drie jaar se gedissiplineerde oefensessies deur ons Brandwag-atlete, maar veral ons 12 OP-atletiekatlete, 11 OP-landloopatlete en 2 OP-padwedloopatlete (Coach B-oefengroep) het ons atlete letterlik ‘n sloot in die baan gehardloop. Almal was dit eens dat hulle hoër hoogtes in 2024 wil bereik, maar dan moet die baan reg. Ons huidige Coach B-oefengroep, tesame met die voorsprong-oefengroep – wat gemik is om deur die vakansie fiks te word vir watter sport ookal – insluitende voornemende Brandwag-atlete en ouers, het hande gevat en saam ‘n plan beraam. Skouer is aan die wiel gesit en ‘n ton bosgrond is bekom. Saam het ouers en atlete die grond ingery en die ergste dele van die baan opgevul, gehark en gerol. Dit wil gedoen wees! Dankie aan die ouers en atlete wat hul vakansie op so ‘n positiewe wyse opgeoffer het!
Ons is egter nie klaar nie en moedig atlete, ouers en weldoeners aan sodat ons ons inisiatief kan voltooi. Ons sien uit na n uitstekende 2024-seisoen!