87 jaar jonk! Geluk Brandwag!
Dit wat in 1937 begin is om te voorsien in die behoefte vir Afrikaanse akademiese onderrig, het sedertdien diep spore in die harte van ons Afrikaanse Uitenhage-gemeenskap getrap.
87 jaar se skoliere het deur Brandwag se gange geloop.
87 jaar se gebroke harte en kyse, maar ook nuwe liefdes lê op ons vierkant.
87 jaar se Valentynsdae en sokkies is in iemand se hart verewig.
Ons is die skool wat kan hande vat om binne ‘n dag R 5900 vir die DBV in te samel, wat vreesloos teen enige Goliatspan kan uitdraf en weet waarvoor ons daar is. ‘n Plek waar jou akademiese geswoeg in tienvoud beloon word.
Brandwag is waar gees in groot maat gekweek word. Waar ons nog met trots Afrikaans kan wees.
Waar jy in matriek nog kan kaalvoetsokkie.
Waar seuns en dogters smiddae na sport ‘n bal gryp en saam met die koshuiskinders teen mekaar touchies speel.
Waar pouses en Bambi sinoniem is.
Waar die hoof self jou pouses in die snoepie bedien.
Waar die Interact se cup cakes enige iets kan genees en jy jou hartseer onbeskaamd onder die groot boom in die vierkant kan uithuil.
Dit is waar elke leerder dou-voor-dag sal opstaan om op ‘n bussie te klim om sy span êrens te gaan verteenwoordig.
‘n Plek waar ons op 14 April (ons stigtingsdag) herdenk dat Brandwag die ekstra myl vir die skool sal hardloop.
Waar die band van grys en groen Brandwagters wêreldwyd onlosmaaklik bind.
Om die skool se erekode aan te haal: Brandwag is die beste skool in die land vir my.” Waarom…
Want sedert 1937 is die beste skool van dink en doen, die skool met die band van grys en groen.
In ‘n neutedop: Ons is ‘n suiwer Afrikaanse plattelandse skool met plattelandse waardes en tradisies, maar wat aan elke kind al die geleenthede kan bied wat hulle in stadskole kry.
Dit is wat ons in 1937 was, dit is wat ons vandag nog is en dit is wat ons beplan om in die toekoms ook te wees.